Wat is inflammasie?
Inflammasie is ‘n natuurlike beskermings meganisme van die liggaam. Daar is 2 tipes inflammasie, nl. Akute vs Chroniese inflammasie. Kom ons kyk net vining na die verskil.
Akute inflammasie:
- Begin onmiddellik na skade / besering (sonbrand/snye/virus infeksie)
- Die duur is kort (‘n paar dae)
- Tekens is pyn, hitte, rooiheid en swelling
Chroniese inflammasie:
- Dit het ‘n vertraagde reaksie om te aktiveer
- Die duur is lank (weke tot maande)
- Daar is geen duidelike tekens soos by akute inflammasie nie
Inflammasie is ‘n natuurlike proses wat plaasvind wanneer jou liggaam bedreig voel deur sekere vreemde indringers soos bakterieë en/of viruses. Dit is deel van die genesings proses. Maar wanneer jou liggaam nie meer die vermoë het om hierdie proses te stop nie kan dit gesonde weefsel in jou liggaam beskadig. Dan is daar konstante lae vlakke van die fisiologiese respons teenwoordig in jou liggaam. Dit is skadelik (onder andere) vir jou arteries in jou hart, gewrigte asook jou binnewand van jou maag.
Soos ek hierbo genoem het, toon chroniese inflammasie geen duidelike tekens of simptome totdat jy later funksie begin verloor êrens in jou liggaam nie.
Hoe kan ons dan bepaal of ons chroniese inflammasie het?
Kliniese toetse kan bepalend wees:
- CRP (C-reaktiewe protein) bloedtoets
- Vastende insulien vlakke
- Verhoogde vlakke van ferritien in die bloed
Jou dokter sal jou hiermee kan help.
Rooi vlaggies is wanneer geassosieërde siektes van chroniese inflammasie hul verskyning maak – hartsiektes, kanker, diabetes, artritis asook outo-immune siektes.
Aksies wat siekte / gesondheidstoestande aanmoedig skep chroniese inflammasie – en laasgenoemde toon ‘n hoë korrelasie met amper elke siekte wat aan die mens bekend is. Daarom word daarna verwys as die “silent killer”.
Elke besluit wat ons maak kom neer op die volgende: Pro-inflammatories of Anti-inflammatories. Kom ons kyk na ‘n paar omgewings/leefstyl faktore wat chroniese inflammasie kan veroorsaak (pro-inflammatories):
- Rook
- Hoë alkohol gebruik
- Lug besoedeling
- Lae vlakke van fisiese aktiwiteit
- Tekort aan slaap
- Chroniese stress
- Obesiteit
- Kitskos
- Te veel omega-6 vette en te min omega-3 vette
Dit is belangrik om daarop te let dat dit wat jy eet baie bydra tot jou liggaam se gesondheids status! Dit is te ware so dat jy is wat jy eet! Kossoorte wat inflammasie aanmoedig sluit in: Verfynde koolhidrate, gebraaide kosse (in olie), suiker drankies, geprosesseerde vleis, margarien en verfynde suiker.
Kosse wat inflammasie beveg sluit in: Tamaties, groen blaar groente (spinasie), vetterige vis (salm/tuna), vrugte (bv bloubessies/aarbeie/kersies/lemoene/appels), neute, uie en knoffel.
Oefening is ook ‘n manier om inflammasie te beveg! Aangesien oefening / fisiese aktiwiteit verskeie areas van fisiese gesondheid aanspreek – kan dit ook die newe-effekte van chroniese inflammasie aanspreek. Oefening verminder jou risiko vir siektes soos diabetes, hipertensie, hartvatsiektes en obesiteit. Hoe laer jou risiko vir laasgenoemde siektes is hoe laer is jou risiko vir chroniese inflammasie, aangesien daar ‘n hoë korrelasie is tussen die twee! Dus begin die bose kringloop steeds by ‘n gebrek aan fisiese aktiwiteit en ‘n ongebalanseerde dieet! Begin dus sommer nou om beide hierdie leefstyl faktore aan te spreek!