KAMERAADSKAP GESONDHEID – TWEE IS BETER AS EEN

Twee is beter as een.  Ons kan saam planne maak, saam avonture beleef, saam die lewe geniet soos God bedoel het.  As ‘n SPAN.  Alles in die lewe is soveel makliker en meer genotvol wanneer jy dit met iemand deel.  Jy kan staatmaak op jou ”spanlid“ vir ondersteuning en motivering wanneer dit moeilik raak asook deel in sy/haar vreugde wanneer daar sukses behaal word.  Maar wanneer albei van julle nie dieselfde leefstyl gewoontes het nie kan hierdie taak baie moeilik raak.

Paartjies deel gewoonlik ‘n gemeenskaplike belangstelling – dit is tog die rede waarom jul bymekaar is.  Jul hou van dieselfde goed en om dinge saam te doen.  Hierdie kan ‘n reeks van aktiwiteite insluit.  Maar soms deel paartjies nie hul liefde vir oefening en ‘n gesonde dieet nie.  Hoe nou gemaak?  Wat is vir aandete?

Kos is ‘n onlosmaaklike deel van ons lewe en dit het ‘n impak op almal van ons.  Almal van ons – mans en dames – word geaffekteer deur wat ons eet en hoe ons lewe.  Ons eet- en oefengewoontes beïnvloed ons emosies, energievlakke, lewenslus en selfs die interaksie tussen man en vrou.  Dit kan baie frustrerend raak wanneer jou lewensmaat ongesonde eetgewoontes het.  Jy probeer so hard om hulle te oortuig van die eindelose gesondheids voordele wat dit vir hom/haar kan inhou maar nodeloos om te sê dit maak geen verskil nie.  Hoe nou gemaak?

Kommunikasie. 

Begin by die begin.  Waarvan hou jy?  Wat is vir jou lekker?  Hoekom hou jy nie van sekere kosse/smake nie? Is jy oop vir verandering?

Leefstyl veranderings affekteer albei partye.  Dus is dit belangrik dat jul kommunikeer oor wat jul plan van aksie is.  Wat is julle doelwitte en hoe gaan julle dit bereik?  Wees eerlik met mekaar en vertel vir jou maat hoekom dit vir jou belangrik is om sekere veranderings aan te bring en/of waaroor jy bekommerd is.  Dit is tog voordelig vir albei wanneer julle gesond is.  Net so meer is dit nadelig vir albei as die een ongesond/siek is.  Dit is ‘n wen-wen situasie!

Kom ons praat eers oor ‘n paar basiese beginsels.

 Volgens die ACSM (American College of Sports Medicine) moet alle gesonde volwassenes die volgende hoeveelheid fisieke aktiwiteite beoefen:

  • Matige intensiteit, aërobiese fisiese aktiwiteit vir ‘n minimum van 30min/5 dae ‘n week OF hoë intensiteit aktiwiteite vir ‘n minimum van 20min/3 dae van die week.
  • Kombinasies van matige/hoë intensiteit aktiwiteite kan uitgevoer word om die riglyne te behaal.
  • Hierdie 30min kan behaal word deur verskeie korter sessies wat akkumuleer tot 30min.
  • Elke volwassene behoort aktiwiteite uit te voer wat spierkrag kan verbeter of handhaaf vir ‘n minimum van 2 dae/week.
  • Diegene wat hul fiksheid verder wil verbeter, risiko vir chroniese siektes verminder en/of ongesonde gewigs toename verhoed kan baat vind deur die minimum voorskrifte van fisieke aktiwiteit te oorskry.

Verder is die realiteite van veroudering ook dat jou risiko vir chroniese siektes verhoog.  Ons kan die volgende riglyne gebruik om te bepaal of jou man alreeds ‘n paar risiko faktore vir Arteriosklerotiese Kardiovaskulêre siektes het:

  • Mans ouer as 45 jaar
  • Hy is fisiek onaktief (Hy kry minder as 30min se fisiese aktiwiteit in <3 dae/week)
  • Jy rook of het in die afgelope 6 maande ophou rook
  • Jou bloeddruk is hoër as 140/90 mmHg (Of jy gebruik medikasie)
  • Middel omtrek van >102 cm
  • BMI is >30 kg.m²
  • Cholesterol telling is > 3.37 mmol.L (LDL) OF <1.04mmol.L (HDL)
  • Familie geskiedenis van kardiovaskulêre insidente
  • Hy is ‘n diabeet of het pre-diabetes.

Ok – ons het gepraat en ons het vasgestel julle wil ‘n verandering maak.  Hier is ‘n paar wenke wat jou as vrou gaan help om dit te implementeer:

  • Inspirasie – Jy as vrou het die wonderlike gawe om jou man te inspireer om die beste te wees wat hy kan wees.  Mans hou daarvan as jy in hulle vermoëns glo asook dit beklemtoon.  As jy hom oortuig dat hy hierdie veranderings kan maak sal hy dit ook glo!
  • Voorbeeld – Jy moet die standaard stel.  Maak ‘n ”commitment“ en bly daarby. Wanneer hy en jou gesin sien dat jy veranderings maak en daarby bly sal jy hulle daardeur beïnvloed om ook dieselfde te doen.
  • Prys – Prys hom wanneer hy gesonde keuses maak! En vermy dit liefs om hom te kritiseer elke keer wanneer hy ‘n slegte keuse maak.  Dit gaan ‘n baie langer positiewe effek op hom hê!
  • Voorraad – Sorg dat die huis propvol is van gesonde kos en happies.  Omring hom met heerlike alternatiewe sodat hy nie die behoefte kry om af te dwaal wanneer hy nie by die huis is nie.
Begin gesels
Kan ons help?
Gesels met ons!
Welkom by La Ferm, hoe kan ons vandag uithelp? 🌸