Vetpersentasie – Relevant of nie?

Geskryf Deur : RULé ERNST-BIOKINETIKUS

Ons word daagliks omring deur syfers.  Jou salaris, gewig, rekeninge, bloeddruk, cholesterol, petrol verbruik van jou motor en so gaan dit aan!  Dit bring my by die vraag:  Moet ons weet wat is ons vetpersentasie?  En as jy uitgevind het – moet jy bekommerd wees oor die waarde?

Eerste dinge eerste.  Wat is vetpersentasie?

Ons weet dat ons liggaam uit verskillende komponente bestaan.  Ons gebruik die woord liggaamssamestelling om hierdie verhouding te beskryf.  Dit behels die proporsie vet, spiere, been en ander weefsel waaruit jou totale liggaamsmassa bestaan. 

Vetpersentasie word dan beskryf as die verhouding van vetvrye massa teenoor vet massa in die liggaam.  Vetvrye massa (ook bekend as skraalliggaams massa) bestaan hoofsaaklik uit jou spiermassa, liggaamswater, bene en organe.  Vetmassa beskryf die hoeveelheid vet in jou liggaam.  

Hoe word vetpersentasie gemeet?

Jou vetpersentasie kan bepaal word deur jou velvoue te meet met ‘n velvoutang.  ‘n Opgeleide tegnikus kan hierdie metings akkuraat doen.  Nadat die metings geneem is word die persentasie met ‘n formule uitgewerk.  Die metings word op spesifieke plekke op die liggaam geneem en dit is belangrik dat die tegnikus die korrekte tegniek gebruik. 

Maar hoe werk dit??

Ongeveer ‘n helfte van die totale liggaamsvet is onder die vel geleë (subkutaan).  Daar bestaan ‘n vasgestelde verband tussen hierdie subkutane en diep geleë vetweefsel.  Aangesien daar ‘n verband bestaan tussen subkutane vet en totale liggaamsvet, kan die som van verskeie velvoue gebruik word om die totale liggaamsvet te bepaal.  

Norme vir vetpersentasie:

GraderingMansVrouens
Risiko – Te laag0 – 5%0 – 10%
Onder gemiddeld6  – 14%11 – 22%
Gemiddeld15%23%
Bo-gemiddeld16 – 24%24 – 31%
Risiko – Te hoog>25%>32%

BIA – Bio-elektriese impedansie:

Skale soos byvoorbeeld Tanita skale wat deur middel van BIA jou vetpersentasie bepaal kan ook gebruik word.  Hierdie tegniek behels die meting van weerstand en reaktiwiteit van ‘n geleier (menslike liggaam) indien ‘n elektriese wisselstroom daardeur vloei.  Met hierdie metode word daar ‘n lae volt elektriese stroom deur die liggaam gestuur en die impedansie, of weerstand teen vloei word dan gemeet m.b.v. ‘n BIA analiseerder.  Die individu se totale hoeveelheid liggaamswater kan dan bepaal word d.m.v. die impedansie meting, aangesien elektroliete in die liggaamswater ‘n uitstekende geleier van elektriese stroom is.  Indien daar ‘n groot volume totale liggaamswater is, vloei die elektriese stroom makliker en met minder weerstand.  Weerstand teen vloei sal groter wees in individue met groot hoeveelhede liggaamsvet, aangesien vetweefsel ‘n swak geleier van elektriese stroom is. 

Albei metodes – BIA asook velvou metings is betroubare toetse wat gedoen kan word om ‘n persoon se vetpersentasie te bepaal.  Dit word internasionaal geakkrediteer en gebruik. 

Nou dat jy weet wat jou vetpersentasie is – wat nou?

Dit is waardevolle inligting wat jou kan wysmaak oor jou gesondheids status.  Indien jou vetpersentasie meer as die aanbevele waarde is, beloop jy die risiko van obesiteit en die toestande wat daarmee gepaard gaan.  Dit sluit in: Diabetes, hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes, slaap apnee, sommige kankers, respiratoriese probleme asook komplikasies tydens swangerskap en chirurgie. 

Daar is wel ook risiko’s verbonde aan ‘n te lae vetpersentasie.  ‘n Baie lae vetpersentasie kan menigte oorsake hê en ‘n volledige evaluasie sal gedoen moet word om die oorsaak te bepaal.  Risiko’s wat geassosieer word met ‘n baie lae vetpersentasie sluit in: fertiliteit probleme (vrouens), uitputting, verlaagde immuniteit, onreëlmatige menstruasie siklusse, osteoperose en been frakture.

Dit is ook belangrik om die vetverspreiding in ag te neem.  Androïede obesiteit word gekarakteriseer deur ‘n hoë vetverspreidings patroon rondom die middel (abdominale vet) en verhoog die risiko vir hipertensie, metaboliese sindroom, Tipe 2 Diabetes, dyslipidemia en kardiovaskulêre siektes.  Diegene met verhoogde abdominale vet het ‘n verhoogde risiko vir hoë vlakke van viserale vet – dit is die vet wat gestoor word in die abdominale holte rondom jou organe (lewer, pankreas en ingewande).  Hoë vlakke van viserale vet gaan gepaard met menigte gesondheids risiko’s.  Daarom gebruik ons nog ‘n tegniek om hierdie risiko verder te klassifiseer, naamlik die middel:heup omtrek.  Hierdie waarde gee vir ons waardevolle inligting rakende ‘n persoon se risiko profiel. 

Middel:Heup omtrek: (WHR)

Die WHR is die omtrek van die middle gedeel deur die omtrek van die heupe en word gebruik om ‘n liggaam se vetverspreiding te assesseer en individue te identifiseer met hoër hoeveelhede abdominale vet.  Gesondheids risiko’s neem toe soos jou WHR toeneem. 

Mans onder die ouderdom van 60 jaar:

HOë RISIKO indien WHR >0.95 is

Mans tussen 60-69 jaar moet die WHR nie meer as 1.03 wees nie

Dames onder die ouderdom van 60 jaar:

HOë RISIKO indien WHR >0.86 is

Dames tussen 60-69 jaar moet die WHR nie meer as 0.90 wees nie. 

Middel omtrekke:

 Middel omtrek
Risiko kategorie:VROUENSMANS
Baie lag<70cm<80cm
Laag70-89cm80-99cm
Hoog90-110cm100-120cm
Baie hoog>110cm>120cm

(ACSM: Guidelines for Exercise Testing and Prescription, 9th Ed)

Omtrek waardes van ‘n pasiënt verskaf waardevolle inligting rondom

Ten slotte, ek dink dat elke individu daarby sal baat om hul liggaams vetpersentasie te weet.  Dit gee vir ons waardevolle inligting wat ons kan gebruik om te bepaal of ons leefstyl veranderings moet implementeer.  Die geheim is om dit by ‘n gekwalifiseerde persoon te laat doen en dit ook te kombineer met ander metings om ‘n volle profiel te skep. 

Onthou – pasop vir die velvoutang – hy knyp!!

Begin gesels
Kan ons help?
Gesels met ons!
Welkom by La Ferm, hoe kan ons vandag uithelp? 🌸