Lekker vars slaai resepte

GROENBONE-EN-PEERSLAAI
(Bedien 4)

BESTANDDELE:
45 ml rooiwyn-asyn
60 ml olyfolie
Hand vol grasuie (chives), gekap
Hand vol Italiaanse pietersielie, fyngekap
½ ui, baie fyn gesny
2 x 180 g-pakkies dun groenbone, vir 3 minute in kookwater gedompel
Sout en varsgemaalde swartpeper
15 ml kanola-olie
2 ferm pere, ontklok en in halwes gesny
50 g okkerneute
30 g parmesan-skaafsels

METODE:
Meng asyn, olyfolie, kruie en ui met draadklitser in middelslag-mengbak. Voeg groenbone by en meng. Geur met sout en peper. Verhit olie tot warm in middelslag-braaipan. Plaas pere met gesnyde kant na onder in warm pan. Braai 5 – 8 minute of tot begin verbruin. Voeg neute by en braai nog 2 minute of tot neute ook goudbruin is. Voeg pere en neute by groenboonmengsel. Meng. Plaas in opdienbak en sprinkel parmesan oor. Sit voor.

KOOL-EN-ERTJIESLAAI
(Genoeg vir 8)

BESTANDDELE:
½ groen kool
½ pers kool
100 g rosyntjies
250 g bevrore ertjies, vir 2 minute in kookwater gedompel
3 stingels seldery, gekap
250 ml vetvrye jogurt
250 ml laevet-mayonnaise
1 brandrissie, fyngekap
Sout en varsgemaalde swartpeper

METODE:
Gebruik ‘n voedselverwerker of skerp mes en sny kool in dun repies op growwe kant van rasper. Meng twee kleure kool saam. Voeg rosyntjies, ertjies en seldery by. Meng res van bestanddele saam om gladde sous te maak. Geur goed met sout en peper. Meng deur koolslaai en sit voor.

TROPIESE HOENDER- EN PASTASLAAI
(Genoeg vir 4)

BESTANDDELE:
240 g rou pasta (volgraan fusillini werk goed)
1 blokkie hoenderaftreksel
5 ml olyfolie
25 ml Mrs Ball’s “Light” blatjang
250 ml vetvrye, natuurlike jogurt
Sout en peper na smaak
120 g hoender, gekook en gekap
30 g seldery, gekap
20 g okkerneute, gekap
380 g mango, in 3 stukke gesny

METODE:
Berei die noedels volgens die aanwysings op die pakkie voor, maar voeg die aftrekselblokkie by die water.
Roer die olie by sodra dit gaar is en hou eenkant om aft e koel.
Meng die blatjang met jogurt en geur met sout en peper.
Meng die hoender, seldery, okkerneute en mango saam en voeg dit by die pasta.
Meng alles saam met die sous.

BRUINRYS-, LENSIE-EN-BABA-SPINASIESLAAI
(Genoeg vir 6 – 8)
Geblikte lensies maak hierdie slaai vining en maklik, maar jy kan jou eie kook as jy dit verkies.

BESTANDDELE:
250 ml bruinrys
1 blik lensies
1 rooi soetrissie, sade verwyder en opgesny
45 ml opgekapte koljander
30 ml opgekapte kruisement
50 ml olyfolie
15 ml suurlemoensap
30 ml balsamiese asyn
500 ml baba-spinasie

METODE:
Kook die rys soos aangedui op die pakkie.
Dreineer die lensies maar moet dit nie afspoel nie. Gooi die soetrissie, koljander en kruisement by en meng.
Meng die olyfolie, suurlemoensap en balsamiese asyn saam in ‘n klein bakkie.
Voeg die spinasie by die slaai en bedruip met die slaaisous. Meng en bedien.

BRONKORS-, FETA-EN-WAATLEMOENSLAAI MET KOLJANDER SLAAISOUS
(Genoeg vir 4)

BESTANDDELE:
800 g waatlemoenstukke, in blokkies gesny
180 g fetakaas, in blokkies gesny
80 g bronkorsblare
Handvol eetbare blomme
30 ml olyfolie
15 ml suurlemoensap
20 ml papawersaad
30 ml opgekapte vars koljander

METODE:
Meng die waatlemoen, fetakaas en bronkors saam in ‘n bak. Plaas die eetbare blomme bo-op.
Kombineer die olyfolie, suurlemoensap, papawersaad en koljander. Bedruip oor die slaai en bedien.

Begin gesels
Kan ons help?
Gesels met ons!
Welkom by La Ferm, hoe kan ons vandag uithelp? 🌸