Feestyd Braai Geregte

KERRIE HOENDERSOSATIES
(Genoeg vir 4)

BESTANDDELE:

4 hoenderborsies, opgesny
100 ml gewone jogurt
Sap van 1 suurlemoen
2 knoffelhuisies, opgekap
3 cm vars gemmer, opgekap
10 ml komynsaad
5 ml borriepoeier
10 ml garam masala-poeier

METODE:

Marineer die hoender: meng die jogurt, suurlemoensap, gemmer, knoffel, komyn, garam masala en borriepoeier saam en plaas die hoender daarin. Marineer vir sowat 3 ure of oornag.

Week houtstokkies in water, en steek dan die hoender daaraan. Rooster/braai die hoendersosaties tot deurgaar.

PESTO HOENDERSOSATIES
(Genoeg vir 4)

Vir ‘n verandering van geur, gebruik damasblom (Roket)- of koljanderpesto in plaas van basielpesto.

BESTANDDELE:

4 hoenderborsies sonder vel
1 groot suurlemoen, in 16 stukke gesny
125 ml jogurt
30 ml pesto
3 cm gemmer, geskil en gemaal
Sap en skil van 1 suurlemoen

METODE:

Sny die hoender in groot blokkies en steek die hoender en suurlemoenstukke om die beurt aan sosatiestokkies wat in water geweek is. Begin en eindig met ‘n stukkie hoender.

Meng die jogurt, pesto, gemmer, suurlemoesap en- skil saam. Marineer die sosaties in die mengsel vir ten minste ‘n uur voordat jy die hoender rooster tot gaar, sowat 10 – 15 minute.

HOENDER-EN-PYNAPPELKEBABS
(Genoeg vir 4)

BESTANDDELE:

4 hoenderborsies, sonder vel
1 klein stukkie gemmer, fyngekap
Klein bossie vars kruisement, opgekap
Sap en skil van 2 suurlemoene
2 suurlemoene, in kwarte gesny
216 g geblikte pynappelstukke in sap, gedreineer

METODE:

Sny die hoender in happiegroottes en meng saam met die gemmer, kruisement, suurlemoensap en -skil. Plaas in die yskas vir ten minste een uur, of oornag, om te marineer.

Steek die hoender, suurlemoen en pynappel aan sosatiestokkies.

Voorverhit ‘n roosterpan en braai die hoender vir sowat 12 minute, tot deurgaar. Bedien saam met gekruide koeskoes.

BOTTERSKORSIE MET SALSA

(Genoeg vir 2)

Hoe kleiner die botterskorsie, hoe beter die geur, en hoe vinniger word dit gaar.

BESTANDDELE:

1 klein botterskorsie
2 takkies tiemie
1 lourierblaar
20 g botter
Vir die bolaag:
6 baba rosa-tamaties, in kwarte gesny
Halwe klein rooiui, opgekap
1 baba-komkommer, opgesny
1 groen jalapeno-rissie, opgesny
10 ml olyfolie

METODE:

Halveer die botterskorsie, plaas die tiemie, lourierblaar en botter in die een helfte, en plaas die twee dele weer op mekaar. Draai in foelie toe en plaas vir 20 tot 25 minute op die braai.

Maak intussen die salsa: meng die opgekapte tamaties, rooui, komkommer, rissie en olyfolie saam. Sodra die botterskorsie gaar is, skep die salsa oor en bedien.

SOETPATATS EN DAMASBLOMDamasblom is Roket blare
(Genoeg vir 4)

Die slaaisous word basies as marinade gebruik.

Basielpesto-slaaisous:

60ml slaaiolie
10ml asyn
50ml basielpesto
Roer die olie en asyn by die pesto in- et voila, so maklik soos dit!

BESTANDDELE:

3 medium-grootte soetpatats
1 groot komkommer
100 g wilde damasblom
5 stingeluie

METODE:

Voorverhit die oond tot 190°C. Skrop die patats en sny dit in rondes van 10 tot 15 mm. Rangskik die skyfies op ‘n geoliede roosterpan, bedruip met knoffelgegeurde avokado-olie en geur met sout en peper. Rooster vir 45 minute, of tot bros aan die buitekant maar sag binne.

Voeg die warm soetpatats by die basielpesto-slaaisous en laat vir ‘n uur marineer.

Sny intussen die komkommer in lang repe met ‘n groenteskiller of mandolien.

Om te bedien, meng die komkommer, patats, damasblom en stingeluie saam in die slaaisous en plaas dit dan oor in ‘n opdienbak.

VARKFILET-WRAP MET GEMMER EN PYNAPPEL

(Genoeg vir 4-6)

Gebruik glutenvrye of volkoring wraps en tonne groente.

BESTANDDELE:

250 g varkfilet, in repies gesny
3 cm gemmer, fyngemaak
25 ml heuning
15 ml rysasyn
2 pynappelringe, fyngekap
4 – 8 volkoring wraps
100 ml humus

Opgesnyde groente – wortels, komkommer, avokado. Gesnipperde rooikool en blaarslaai.

METODE:

Braai die repies vark in ‘n warm braaipan tot deurgaar.

Meng die gemmer, heuning, asyn en pynappel saam en voeg die gaar varkvleis by die mengsel. Meng goed en plaas eenkant sodat die geure in kan trek.

Maak die wraps deur ‘n porsie van elk van die bestanddele in elke wrap toe te wikkel.

Begin gesels
Kan ons help?
Gesels met ons!
Welkom by La Ferm, hoe kan ons vandag uithelp? 🌸