Geen verskoning resepte

La Ferm gee ‘n paar basiese wenke asook heerlike laat oggend ontbyt resepte (BRUNCH idees) waarmee jy jou gesin en gaste kan bederf. Gesond eet kan ook lekker eet wees!

WENKE:

  • Eet ontbyt eers 11h, geniet ‘n ligte ete of happie 15h en bedien dan ‘n  porsie proteïen en groente/slaai vir aandete.
  • Pasop vir verskuilde suikers in drankies en souse;
  • Drink genoeg water – drink ’n glas water na elke glas van iets anders;
  • Kies die laer GI koolhidrate en hou porsies van koolhidrate en vette dop;
  • Begin by die varser opsies skep en kies meer groente, slaai en vrugte;
  • Vermy sigbare vet aan proteïene;
  • Eet kleiner happies meer gereeld sodat die honger nie jou besluite by maaltye beïnvloed nie.
  • Maak gesonder bederf happies
  • Beplan vooruit!


BIRCHER MUESLIE

Bedien 1

Maak vorige aand al.


BESTANDDELE:

40g rou hawermout

1 koppie (250ml) lae vet melk/ appelsap

3 vars aarbeie

1 t heuning

10 amandels, gekap

Fyn kaneel, na smaak


METODE:

Gooi die hawermout en melk/appelsap in ‘n bakkie en meng deeglik. Gooi in lugdigte houer en bêre oornag in die yskas.

Volgende dag: Haal bircher uit die yskas. Voeg nou die gekapte amandels en aarbeie by en geur met heuning en kaneel. Meng en geniet koud.


KORSLOSE MINI QUICHES

(Maak sowat 18 muffin grootte quiches)


BESTANDDELE:

Basiese quiche-resep

1 blik (310ml) botter- of cannelliniboontjies(klein wit boontjies), gedreineer

1k (250ml) lae vet melk

5 eiers

1t (5ml) mosterd poeier

½t (2,5ml) sout

½t (2,5ml) swart peper

1k (250ml) mozzarella kaas, gerasper

Groente vulsel:

½k (125ml) murgpampoentjies, gerasper

½k (125ml) botterskorsie, in klein

blokkies gesny en gaar gestoom

¼k (60ml) rooi soetrissie, ontpit en fyngekap


METODE:

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n muffinpan liggies met ’n stukkie kombuispapier wat in olyfolie gedoop is.

Vermeng al die bestanddele vir die basiese quiche-resep, behalwe die mozzarella, tot dit glad is. Skep die groentevulsel in elke holte van die muffinpanne en vul dit vier-vyfdes op met die vloeibare mengsel. Sprinkel ’n bietjie gerasperde mozzarella oor die bokant van elke quiche en bak vir 40-50

minute, tot gaar en eier gestol is. Laat die quiches vir 10 minute in die pan afkoel voor jy dit versigtig met ’n mes van die kante van die pannetjie los maak en uithaal.

Sit dit warm of koud voor.


EIER-EN-SPEK TERTJIES MET PESTO & SAMPIOENE

(2 tertjies)

BESTANDDELE:

2 stukkies rugspek, harde randjies en vet afgesny

½k sampioene

1 eetl olyf olie

2 eetl basil pesto

1-2 groot eiers

25ml ongegeurde, lae vet jogurt

30g mozzarella kaas

METODE:

Voorverhit die oond tot 180°C.

Smeer ’n muffinpan met olyfolie. Voer 2 holtes uit met repies spek.

Sny die sampioene in kwarte – moet dit nie te fyn sny nie.

Verhit 1 eetlepel olyf olie in ’n pan oor matige hitte en braai die sampioene tot goudbruin en gaar,

roer dan die pesto deur en geur met sout en peper.

Klits die eiers, jogurt en kaas goed saam.

Verdeel die sampioene in die 2x uitgevoerde holtes van die muffin pan en gooi dan die eiermengsel oor. Bak vir 25-30 minute of tot gestol en goudbruin.


SUIKERMIELIE-EN-SPEK-FRITTATA

(Genoeg vir 6)


BESTANDDELE:

6 repe ontbytspek, vet verwyder en fyngekap

1 blik heelpitmielies, gedreineer

250ml cheddar-kaas, gerasper

8 eiers

200ml lae vet melk


METODE:

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 12-houer muffinpan goed.

Diepbraai die spek in ‘n kleefvrye braaipan. Verwyder van die hitte en voeg die mielies by.

Verdeel die spek-en suikermielie-mengsel tussen die 12 muffin-houers. Sprinkel met kaas.

Meng die eiers en melk saam in ‘n mengbak en geur na smaak. Verdeel tussen die 12 muffin-houers.

Bak vir 15 tot 18 minute tot gepof en goudkleurig. Laat staan vir 10 minute voordat jy dit van die muffinpan verwyder.


TUNATERTJIES

(Maak 12 tertjies)

BESTANDDELE:

4 e olyfolie

2 x 170 g-blikkies tuna in bronwater, gedreineer

3 sprietuie, fyngekerf

2 e fyngekapte vars koljanderblare

300 g fyngemaakte gaar patat

½ t gerasperde suurlemoenskil

2 groot eiers

Sout na smaak


METODE:

Verhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n muffinpan met 12 koppies met die helfte van die olyfolie. Meng die res van die bestanddele en die oorblywende olyfolie en geur met ‘n bietjie sout. Verdeel die mengsel tussen die muffinkoppies en gebruik die agterkant van ‘n lepel om dit liggies vas te druk. Bak vir 25 minute tot goudbruin en effens bros.


VINNIGE CRUDITES MET HUMMUS & TZATZIKI

Vul ‘n groot bord met ‘n verskeidenheid gerieflike vingergroente soos kersie-tamaties, suiker-ertjies, baba-worteltjies, babamielies, sampoiene, broccoliblommetjies, blomkoolblommetjies en agurkies

Voeg hummus of maaskaas of tzatziki by en gebruik as doopsous vir die groente.

Hoewel hummus, ook laervet-hummus, geredelik beskikbaar is in supermark, is dit net so vinnig en maklik om tuis te maak.


TORTILLA PIZZA

(Bedien 1)


BESTANDDELE:

1 medium tortilla

1 e basilliepesto (bv Ina Paarman)

5 kersie tamaties gehalveer

¼ soetrissie, gekap

30 g Mozzarella kaas, gerasper

5 sampioene, in skywe gesny


METODE:

Smeer basilliepesto oor tortilla. Pak al die gesnyde groente op tortilla en versprei egalig. Strooi gerasperde kaas bo-oor en bak in oond teen 180°C tot kaas smelt. Geniet warm.


Happies

Hierdie resep is ideaal vir daardie soet tand bederf- waaroor jy minder skuldig hoef te voel. Kinders is mal hieroor!


Neutbotter balletjie


BESTANDDELE:

1 koppie FERM UP karamel geur (beskikbaar by www.laferm.co.za)

1 eetl kaneel

Knippie sout

¼ t Vanilla ekstrak

½ koppie neutbotter van keuse

½ koppie heuning


METODE:

Meng al die droё bestanddele in mengbak. Meng dan jou neutbotter, vanilla ekstrak en heuning by. Meng goed en vorm in balletjies (maak 30 balletjies). Rol na die tyd weer in kaneel of FERM UP. Indien mengsel te droog voeg meer neutbotter/heuning by. Vries of hou in yskas. Geniet!


RIMPEL-ROOMYS VAN JOGURT

(Genoeg vir 6 bakkies)


BESTANDDELE:

6 x 100/175g ongegeurde jogurt

160g vars/gevriesde bessies, verpulp

METODE:

Trek die foelie van al 6 jogurtbakkies af. Skep die bessiepulp in die bakkies sodat elkeen tot bo vol is. Steek die roomysstokkie in elke bakkie en vries oornag. Dop uit die bakkies uit en geniet.

APPEL EN NEUTBOTTER

Sny appel in ringe of wiggies en smeer 2 eetl neutbotter van jou keuse op appel. Vinnige, gesonde happie!